Juan Griffith: Van harde rocker tot peinsende solo-kunstenaar
Die oud harde rocker Juan Griffith het besluit om die brieke aan te slaan en met sy nuwe enkelsnit, Mal, beloof hy om die bloute van ’n Maandag of ’n Sondagaand weg te dryf en vir luisteraars introspeksie te gee met sy nuwe meer kontemporêre klanke.
Juan Griffith is veral bekend vir meer gedrewe rock klanke van Grensbasis13 en Tot Stilstand. Dié groepe het gereeld speeltyd op die destydse musiekkanaal, MK, geniet en het op verskeie top 10 speellyste van kommersiële radiostasies verskyn.
Met sy solo-projek beweeg dié Bethal-boorling weg van die bulderende dromme en krag akkoorde waarvoor hy bekendheid gewerf het en spits hy homself toe op ’n meer gesofistikeerde en rustiger kant wat ’n weier luistergroep sal bekoor.
“Die liedjie Mal het ek in 2005 geskryf, dit handel oor my tyd in Secunda waar ek vasgevang en gefrustreerd was in ’n werk wat ek nie van gehou het nie,” sê Juan.
Mal sal luisteraars diep tref met sy melancholiese klavierklanke en Juan se vermoë om sy stem te buig en te manipuleer in diverse registers tref diep en laat jou oor die lewe, die lot en toekoms besin.
Saam met die enkelsnit Mal, het Juan nog twee ander snitte op geneem en is in die proses om nog drie snitte te vervaardig
“Ek wou graag musiek skep wat rustiger is. Ek is nou in my rustige fase, waar die lewe nou meer sin maak en ek kan terugkyk na waar ek was, waar ek vandaan gekom het, waarheen ek nog op pad is.”
Volg Juan Griffith